Gebed is een van die belangrikste Christelike aktiwiteite wat daar is. Hierdeur beoefen jy 'n intieme wandel met die Here wat die grondslag vorm van jou geestelike lewe. Dit plaas jou ook op oorwinningsgrond in die stryd teen die bose omdat jy jouself in die geloof aan die beskerming en sorg van die Groot Oorwinnaar, Jesus Christus, toevertrou.
'n Gemeente wat bid, is 'n gemeente wat afhanklik bly van God. So 'n gemeente is een wat haar plek ken in God se koninkryk en nooit dink dit gaan oor haar prestasies en diensbaarheid nie. Die fokus bly altyd op God en Sy koninkryk en om Sy Naam op aarde te verheerlik. Mag gebed ons eerste prioriteit word as dit nie reeds is nie.
Visie
Om gebedsgroepe te ondersteun wat die gemeente en sy aktiwiteite in die gebed dra en wat uiteindelik sal groei sodat elke lidmaat sal deelneem aan voorbidding.
Missie
Om op gereëlde basis as gebedsgroepe byeen te kom om voorbidding te doen vir 'n verskeidenheid persone en sake binne en buite die gemeente en om spesiale gebedsversoeke as groepslede onder mekaar te deel en daarvoor te bid. Verder ook om die gemeente toe te rus om saam te bid en hulle bewus te maak van die belangrikheid van gebed.
Tipiese sake waarvoor voorbidding gedoen word
- Predikante en hul woordverkondiging en ander ampswerk deur ouderlinge en diakens.
- Siek lidmate en lidmate wat treur oor die dood van hul geliefdes.
- Geestelike groei en liefde onder die lidmate.
- Alle kerklike aktiwiteite en projekte.
- Ander gemeentes, bv. die Grace Reformed Church, Mmakau Gereformeerde Kerk en kerke in ander lande wat deur uitreikwerk bedien word.
- Die gemeenskap, ons land en regering.
- Knellende probleme in ons land, bv. rampe, jeug en verslawing, korrupsie, armoede, versorging van bejaardes, ens.
- Wêreldgebeure.

Hoe daar te werk gegaan word
- Voorbidding word op Sondae voor die oggenderedienste gedoen.
- Gebedsversoeke word ontvang vir voorbidding. Elke versoek word dan per WhatsApp of per e-pos na al die lede van die gebedsgroepe deurgestuur.
- Spesiale gebedsgeleenthede kan geskep word.
- Daar word gepoog om 'n "gebedskild" vir die leraars en hul gesinne daar te stel. Leraars kan lede van die gebedsgroepe wat hulle in vertroue wil neem oor persoonlike behoeftes nader om voorbidding te doen.
Toekomstige doelwitte
- Dat die gemeente opgebou en toegerus sal word tot "'n Huis van gebed".
- Dat elke lidmaat op een of ander tyd betrek sal word om saam met ander lidmate te bid.
- Dat gebed die hoofvereiste sal bly/wees van elke diensgroep, kommissie en/of saak van elke bediening en in die hele gemeente.
- Dat elke lidmaat die nodige gebedstoerusting sal ontvang om bidvaardig te wees.
Wil jy graag betrokke raak by die Gebedsbediening?
Die diensgroep bestaan tans uit ongeveer 10 persone, maar ons sou graag groter betrokkenheid wou sien. Dit was reeds moontlik om meer as een enkele gebedsgroep te vorm en die lede word tans geroteer tussen die groepe op 'n weeklikse basis. As jy dus by die diensgroep wil aansluit, vul asseblief die e-posvorm in by Kontak ons en verskaf jou naam en telefoonnommer en ons sal na jou toe terugkom.
Het jy 'n gebedsversoek?
Ons hanteer graag gebedsversoeke. As jy so 'n versoek het, vul gerus die e-posvorm hieronder in.
As jou gebedsversoek van 'n vertroulike aard is, dui dit asseblief so aan op die vorm. Die e-pos gaan direk na die sameroepster van die Gebedsbedieningsdiensgroep, suster Carina Pyper, en sy sal dan die versoek met die nodige diskresie hanteer. Neem asseblief vrymoedigheid.
