Visie
Die diensgroep se visie is om die jeug in ons gemeente wat deur middel van klein saadjies van kennis en geloof gegroei het tot kinders wat lief is vir Jesus en steeds meer vrugbaar wil word, te ondersteun om daardie doel te verwesenlik.
Missie
Die Jeugdiensgroep is opgedeel in drie subgroepe waar die diakens op die vertikale verhoudings tussen die kinders en die gemeente (koinonia) fokus. Die subgroepe dien as fasiliteringsgroepe waar die diakens die kinders aan mekaar verbind en ook hulle gawes identifiseer en opbou, sodat hulle in die groter gemeente betrokke kan raak. Hierdie subgroepe werk ook saam met die Jeugbedieningskommissie. Dit is om te verseker dat die kinders nie net spiritueel groei nie, maar ook in verhouding en diensbaarheid binne die gemeente groei.
Groep se samestelling
Hierdie diensgroep word in drie subgroepe verdeel. Elke groep word deur ’n diaken bedien wat as ’n koördineerder optree:
- Laerskool: Die laerskooljeug is geskep vir die kinders van voorskool – graad 6. Daar word vir hul deur die jaar verskeie geleenthede gereël waar hul bymekaar kom om saam te speel en mekaar op ’n dieper vlak te leer ken. As die kinders mekaar op grondfase beter leer ken, word verhoudings makliker gebou en versterk.
- Hoërskool: Die hoërskooljeuggroep is vir die leerders vanaf gr. 9 – 12. Binne die aktiwiteite waar die kinders mekaar leer ken, word daar gekyk na gawes en word hulle aangemoedig om deel te word van die diensgroepe binne ons gemeente.
- Naskool: Die groep is vir ons jong studente en jong werkendes om by mekaar uit te kom tussen die heen en gaan van ‘n besige lewe, om mekaar te leer ken en te ondersteun. Gawes word geïdentifiseer en versterk en hierdie jongmense word dan in die gemeente ingestuur om te dien.
Die doel van die diensgroep is om ons jeug by te staan om:
- Hulle gawes te identifiseer, te versterk en uit te leef.
- Bybelse waardes en karaktervorming te kweek en aan te wakker.
- Die wyshede wat in die Bybel geleer word in die werklike lewe binne die bediening van die gemeente toe te pas.
- Te besef dat hulle waarde het in Christus en geroep word om hul gawes uit te leef.
Ons jeug speel ’n belangrike rol in ons gemeente. Net so belangrik soos dit is om hulle na geestelike volwassenheid te lei, so wil ons hulle leer dat hulle ook deur die Heilige Gees gawes ontvang het en geroep word om dit uit te leef. Om dit te kan doen wil ons die jeug graag toerus sodat hulle hulle mede-lidmate kan ondersteun deur middel van omgee, diens binne en buite die gemeente en gebed. Ons wil hulle verseker dat hulle ook ’n belangrike rol in die gemeente het en deel is van Christus se liggaam. Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie diensgroep nie spesifiek fokus op die katkisasie-inhoud vir spirituele onderrig nie, maar wel op die bou van verhoudings tussen die kinders en ook gemeentelede.
