Ons roeping
Die verkopings van tweedehandse goedere bied 'n geleentheid om na hoofsaaklik werknemers in die omliggende gebied van die kerk uit te reik. Dit is 'n geleentheid waar die liefde van Jesus ten toon gestel word deur tweedehandse goedere en nuwe bybels teen weggeepryse te verkoop. Tegelykertyd kan gesprekke oor God gevoer word met persone wat daarvoor ontvanklik sou wees.
Die tweedehandse verkopings is derhalwe 'n onderafdeling van Evangelisasie in eie omgewing asook van Bybelverspreiding.
Doelwitte
Al is een van die tweedehandse verkopings se doelwitte om fondse in te samel, is dit nie die primêre doelwit nie. Die gemeentelede skenk items soos tweedehandse klere, kombuisware, beddegoed, ens. en deur dit te verkoop word fondse ingesamel. Hierdie fondse word direk teruggeploeg in evangelisasieprojekte.
Die volgende doelwitte word nagestreef met die verkopings:
- Om die evangelie uit te dra aan die werkersgemeenskap in die omgewing van die kerk.
- Om bybels te versprei.
- Om die werkersgemeenskap, wat nie nuwe goedere kan bekostig nie, te help om bruikbare goedere teen billike pryse te bekom.
- Om fondse in te samel vir Evangelisasie.
- Om klerasie te verskaf aan behoeftige instansies, bv Mirtehof Bejaardetehuis, Eljada en Gereformeerde Kerklidmate van Mmakau.
Ons werkswyse
Die diensgroep bestaan uit ongeveer 12 lidmate en verkope word aan die einde van elke maand gereël. 'n Paar dae voor die verkoping doen drie of vier lidmate die uitsorteerwerk en heg 'n prys aan elke item. Op die oggend van die verkoping kom die span om 06:00 bymekaar en dra die tafels en goedere uit na die ingang van die kerkterrein. Die verkope begin so vroeg moontlik, sodat die werkers wat op pad is na hulle werk tyd het om 'n draai by ons te kan maak.
Elke koper ontvang 'n pamflet met 'n Bybelteks, die geloofsbelydenis en die kontakbesonderhede van die kerkkantoor en predikante. Gesprekke met die kopers bly belangrik. Ons gesels oor God se grootheid en daar word gevra of hy/sy God wil ontdek deur sy Woord en of hy/sy God se wil vir ons lewe wil leer.
Daar is 'n spesiale bybeltafel waar bybels in al die 11 amptelike landstale beskikbaar gestel word. Die nuwe bybels word teen slegs R20.00 verkoop wat aansienlik laer is as die aankoopprys waarteen die Evangelisasiekommissie die bybels aankoop. Op hierdie manier word daar 'n aansienlike aantal bybels deur die loop van 'n spesifieke jaar versprei. 'n Boekie met die Heidelbergse Kategismus word gratis saam met elke bybel verskaf.

Ds Attie Venter en suster Marietjie van der Walt agter die bybeltafel.
